Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS SONDAG 18 MAART 2012

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Vir oudio gaan na www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio Today' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 7,066 en 3,695 MHz ESB. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTEL

Dit is met leedwese dat bekend gemaak word dat die sleutel van Jeff Mossman, ZR6JPO, op 24 Februarie 2012 stil geraak het. Jeff het 'n hartaanval gehad terwyl hy van Durban af na sy tuiste in Johannesburg gery het.

Ons innige meegevoel aan sy familie en vriende.

(POUSE)

In die nuus vandag:

GEBOORTEPLEK VAN RADIO WORD 'n STAD

LUISTER WEER NA DIE INTEGNET

BUITE-MELKWEGSTELSELSE MYLPAAL VIR SUID-AFRIKA SE KAT-7 TELESKOOP

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

GEBOORTEPLEK VAN RADIO WORD 'n STAD

Chelmsford, wat beskou word as die geboorteplek van radio en vir jare die tuiste van die Marconimaatskappy, is een van die drie nuwe stede wat geskep is as baken van die Koningin se diamantjubileum. Hierdie jaar is dit ook die 100ste herdenking van die ontstaan van die oprigting van 'n eerste fabriek deur Marconi in Newstraat, Chelmsford, alleenlik vir die vervaardiging van radios. In Newstraat is 'n blou gedenkplaat aangebring om aan die geskiedkundige gebeurtenis te herinner.

LUISTER WEER NA DIE INTEGNET

Indien u verlede week se Integnet aangaande antennas misgeloop het, kan u weer daarna luister. U kan beide die oudio- en die Powerpointaanbiedings van www.sarl.org.za aflaai, klik op Amateur Radio TODAY in die linkerhandse spyskaart.

Vincent Harrison, ZS6BTY, het gepraat oor HF-antennas vir DX-werking insluitende dipole, vertikales en klein rigstralers. Hy het ook gefokus op die effek van hoogte bogrond, uitstralingspatrone en –hoeke en geraak aan antennas vir 80 m en 160 m.

BUITE-MELKWEGSTELSELSE MYLPAAL VIR SUID-AFRIKA SE KAT-7 TELESKOOP

Suid-Afrika se KAT-7-teleskoop, ‘n seweskottelopstelling is ‘n voorloper vir die veel groter MeerKAT-teleskoop in die Karoo en die vierkantkilometeropstelling, het 'n ander belangrike mylpaal bereik deur die waarneming van die radiouitstraling van die neutrale waterstofgas (HI) in 'n nabygeleë sterrestelsel. Waterstofgas straal radiogolwe in 'n spektrale lyn op 'n baie spesifieke frekwensie van 1 420 MHz uit.

Die sterrekundiges het die teleskoop gerig op 'n sterrestelsel genoem NGC 3 109 - 'n klein spiraal-sterrestelsel sowat 4,3 miljoen ligjare van die Aarde, geleë in die konstellasie Hydra. Die waarneming het hulle toegelaat om die MI-radio-vrystelling van hierdie sterrestelsel te sien, asook hoe hierdie sterrestelsel beweeg. Wanneer die gas na ons op pad is, is die frekwensie van die spektrale lyn Doppler-opwaarts geskuif, waar die gas wegbeweeg, is die frekwensie afwaarts verskuif. Op hierdie manier kan sterrekundiges die pad wat die gas in die melkwegstelsel beweeg karteer.

"Hierdie opwindende resultate wat deur die KAT-7 behaal is, het ons vertroue gegee dat ons weet hoe om 'n baanbreker-radioteleskoop in Afrika te bou en 'n paar van die fundamentele vrae in radio-astronomie te beantwoord," sê Dr Bernie Fanaroff, direkteur van SKA Suid-Afrika. "Ons span in die SKA Suid-Afrika Projek en universiteite het weer gewys dat hulle die nuutste tegnologie kan lewer en 'n uitstekende wetenskap op 'n baie stywe skedule kan doen."

BOEIE OP 10 METER

Die bron van geheimsinnige swak seine op 29,684 MHz teen 81,9 Baud en 130 Hz skuif is vasgestel. Volgens die Februarie IARU Streek Een nuusbrief, ontstaan die seine in die Spaanse kusgebied en was oor die hele Europa hoorbaar, maar slegs tydens bandopeninge en slegs met direksionele antennas.

Dit blyk dat die bron van die uitsendings Datawell-boeie is. Hierdie boeie, wat in Nederland vervaardig is, word gebruik vir die meet van watertemperature en golfhoogtes. Hulle is ontwerp om 75 milliwatt uit te stuur op frekwensies tussen 27 en 40 MHz.

Dick Van Empelen, PA2GRU, van Heemstede in Nederland het sedertdien die Datawell-maatskappy besoek en hulle meegedeel dat die boei-uitsendings op die amateurdiens in die 10 meter band onwettig is. Die bedryfshoof het onderneem om alle Datawellkantore oor die situasie in te lig. Hier is 'n uitdaging vir amateurs in Afrika en Suid-Afrika om vir 'n paar baie swak seine op die uitkyk te wees. Die frekwensie is 29,684 MHz. Maak 'n opname en stuur dit aan artoday@sarl.org.za.

SARL-KANTOOR gesluit

Onthou, die SARL se kantoor sal gedurende Maart gesluit wees. Mariska Faasen is met vakansie op besoek aan familie oorsee. Tussen Henry Chamberlain en Francois Botha sal hulle aan e-pos en telefoonboodskappe aandag skenk. Stuur asb e-pos aan die gewone adres nl admin@sarl.org.za.

ONDERHOUD AAN SARLNEWS- EN SARLNUUS-POSLYSTE

Hierdie nuusitem is ontvang van Peter Hers, ZS6PHD, wat baie onderhoud aan die SARL se webwerf gedoen het.

Die SARL se webwerf het 'n fasiliteit waar enigeen kan inteken om 'n kopie van SARLNews of SARLnuus te ontvang. Daar is grootskaalse huisskoonmaak aan die e-poslys gedoen en baie ongemagtigde e-posadresse is van die lys verwyder.

Weens tegniese redes is dit moontlik dat wettige adresse ook verwyder is. Indien daar van u is wat nie meer die bulletins per e-pos ontvang nie, of wens om in te teken, gaan asb. na die SARL se webwerf www.sarl.org.za en kies News / Nuus per e-pos aan die linkerkant.

Maak asb. hierdie probleem bekend aan u vriende wat geaffekteer mag wees.

WEDSTRYDNUUS

Uitslae, SARL Digitale wedstryd, Februarie 2012.

9 logboeke is vir hierdie wedstryd ontvang. Volgens die logs is kontakte as volg op bande gemaak: 40 m = 108, 20 m = 52. Ook is 131 x PSK- en 29 x RTTY-kontakte gemaak. Dit was ook lekker om die eerste DX-log van VU2UR te ontvang.
Die uitslae is as volg
1ste ZR6MS 385
2de ZS6A 368
3de ZS6PX 360
4de ZS2J 351 punte.

Die volledige uitslae sal in HF Happenings verskyn.

WES-KAAP ANTIEKE RADIOVERENIGING EXPO

Die Wes-Kaapse afdeling van die Antieke Radiovereniging van Suid-Afrika sal 'n Expo hou wat elke dag vir die hele Paas-langnaweek van die 6de tot 9de April oop sal wees. Dit vind plaas op die plaas-QTH van Johannes en Judy Martin, ZS1D, en ZS1JEG, naby Stanford. Daar sal'n groot uitstalling van radio's van weleer en verwante toerusting wees en 'n klassieke radiostasie sal in werking wees.

GPS-koördinate vir die plaas is 34 25,458 S 19 24,922 O. Roepfrekwensies sal wees 145,500 en 14,725 op die Hermanus-herhaler.

Die fokuspunt sal vanaf 16:00 SAST Saterdag wees en sal begin met aanbiedings deur die AWA-President, Richard, ZS6TF, en ander lede wat van die toerusting van hulle herstel. 'n Interaktiewe gesprekforum sal volg vir bydraes deur enigiemand, of vir diegene met vrae of wat hulp nodig het. Daar sal 'n bring-en-braai in die aand wees en vir diegene wat die Saterdagaand wil oorslaap, bring net jou kampeertoerusting want daar is kampeerfasiliteite op die plaas.

Kontak asseblief die organiseerder en AWA-komiteelid, John, ZS1WJ, by 082 673 5337 vir meer inligting en om hom te laat weet indien jy die funksie gaan bywoon. Besoekers word aangemoedig om 'n antieke radio vir uitstalling saam te neem, miskien 'n restourasie- of tuisbouprojek, of "soos gevind" om tot die interessantheid van die Expo by te dra.

HF VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, berig dat die sonaktiwiteit aan die afneem is noudat reuse sonvlek 1 429 weg van die aarde af geroteer het. Ons gaan hom mis!

Vir diegene wat hulle eie frekwensievoorspellings wil doen, die verwagte effektiewe sonvlektelling vir die week is ongeveer 57.

Al die DX-bande van 20 tot 10 m gaan pret wees met die moontlikheid van sporadiese 6 m openinge.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

18 Maart – Die SARL BHF/UHF Analoog/Digitale kompetisie duur nog tot 12:00 SAT vandag.
21 Maart - ZS6ERB se konstruksiedag.
30 Maart – Laaste dag vir insending van regulatoriese items vir bespreking met OKOSA aan artoday@sarl.org.za.
6-9 April - Wes-Kaap Antieke Radiovereniging Expo naby Stanford, skakel John, ZS1WJ, by 082 673 5337 vir meer inligting.
20 - 22 April SARL-konvensie in Pinetown.

SARLNUUS nooi klubs en individue om nuusbrokkies wat radioamateurs en kortgolfluisteraars sal geniet, in te stuur. Stuur dit - indien moontlik - in beide Engels en Afrikaans, na www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later as die Donderdag voor uitsending nie.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateurradio VANDAG wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 760 kHz. Daar is ook 'n potgooi-uitsending deur ZS6RO. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'Amateur Radio TODAY', gaan af op die groen kolom en klik op 'LISTEN ON THE WEB'. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 17:30 UTC op 4 895 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n bulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga, saamgestel deur George, ZS6NE.

Dankie dat u geluister het, 73.

/EX


Ten einde u inskrywing op hierdie subskripsielys te verander of dit daarvan te verwyder, gaan na www.sarl.org.za/members/admin/maildat.asp.


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003